Dis altyd asof daar ’n lig in ’n ouer uitdoof wanneer ’n kind vermoor word.
Hulle kry haar ontbindende liggaam in die veld. ’n Tiener. Sy is verkrag en gemartel. Uiteindelik gehang. Sy is nie die eerste een nie. Ook nie die laaste nie.
Adjudant-offisier Jan Magson moet die reeksmoordenaar vang. Hy moet die meisies se pa’s en ma’s in die oë kyk en hulle vrae beantwoord, maar hy kan nie. Hy kan nie eens sy eie vrae beantwoord nie. Want agter hom lê ook ’n donker spoor wat sy seun van hom vervreem het.
Wat is regtig erger? Om die een te wees wat doodgaan? Of die een wat bly lewe?
Waar kom die storie vandaan?
Reeksmoordenaars fassineer my al vandat ek The Silence of the Lambs gesien het en uitgevind het daar bestaan sulke mense. Ek het oor reeksmoordenaars soos Ted Bundy en Jeffrey Dahmer begin lees. En toe die boeke deur profielsamestellers soos Robert Ressler, John Douglas en Roy Hazelwood van die FBI, en Dr Micki Pistorius van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Intussen het ek ook by die SAPD gaan aanklop om uit te vind hoe moorddossiere in Suid-Afrika ondersoek word. So het ek by die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Bishop Lavis uitgekom. Die speurders wat die reeks moorde in Donker Spoor ondersoek, is lede van een van die vier bystandgroepe van EGM.
Dis belangrik om te weet presies wat aan die slagoffers gedoen is omdat dit soveel oor die persoonlikheid van die moordenaar sê, en dus het ek ook met patoloë by die Forensiese Patologiedienste gepraat en selfs ’n outopsie bygewoon.
Wie is die hoofkarakters in Donker Spoor?
“Ek wil nie nog ’n meisie se foto teen die muur vassit nie.”
AO Jan Magson is in die laaste jare van sy polisieloopbaan. Nog in rou ná sy vrou se dood, is ’n reeksmoorddossier die laaste ding waarvoor hy kans sien. Want dit gaan aanhou en aanhou totdat hy die moordenaar vang. As hy hom vang. Boonop is dit duidelik uit die merke en beserings op die tienermeisies se liggame dat hulle ’n paar dae lank aangehou en gemartel word. En met elke nuwe slagoffer word die druk groter: die oppergesag, die media, die ouers …
“Ek mis die negentigs. Mens kon rook in die negentigs.”
AO Colin Menck is Magson se kollega en hulle is al jare lank saam. “M&M”, noem een van sy informante hulle. Met Menck se sin vir humor en Magson se ernstiger benadering, vul hulle mekaar meestal goed aan. Meestal.
Wat sê resensente oor Donker Spoor?
Steyn is in voeling met die genre—hy weet presies hoe om spanning te fabriseer, hoe om sy karakters eg en oortuigend te skets, hoe om die leser enduit te boei met ’n roman wat by tye besonder grieselrig en ontstellend is.
Jonathan Amid, LitNet
Steyn se karakterisering is uitmuntend, en dis veral die hoofkarakter wat baie emosie by die leser ontlok.
Johan Smith, Rapport
Die humor is skerp en is veral te vinde in die dialoog tussen Mags en Menck.
Nadine Hamman, Tydskrif vir Letterkunde
Kan ek ’n stukkie lees?
Ja! Daar is ’n uittreksel uit hoofstuk een op my webwerf.




